Press Articles
Pierneef ‘legkaart’ wen Sasol Nuwe handtekeninge Johan Myburg, August 27, Die Beeld
Die wenners van vanjaar se Sasol Nuwe Handtekeninge-kunspryse is gisteraand in Pretoria aangekondig.
Die algehele wenner is Maryke van Velden, die naaswenner is Amita Makan en die vyf merietepryswenners is Peter Mikhael Campbell, Angela Viera de Jesus, Abri de Swart en Jeanine Visser.
As wenner verdien Van Velden R60 000.
Vir haar wenwerk, Pierneef goes Dulux, SupaWood, Dulux PVA (10x164 221,5cm) het Van Velden gebruik gemaak van `n Pierneef- landskap en `n reuse-legkaart daarvan gemaak. Op die manier verken sy nie net die tradisie van suid-Afrikaanse landskapskilder-werk nie, maar ook die lukraak verband tussen kleur en taal.
Van Velden het haar kunsstudie aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi. Sy is tans besig met `n nagraadse kursus in illustrasie.
Ander media waarin sy werk, is video, installasie en performance.
Makan het die beoordelaars beindruk met haar Loose Ends, A Story About My Mother, handgeborduurde sydraad op sy, met brokaat, krale en kristalle (106,5 x 85x3,5). Die werk wat as `n momento mori gelees kan word, is `n portret van haar ma wat aan Alzheimer-siekte ly. Die tweekantige werk vys veral aan die agterkant die “los drade” wat verband hou met `n glippende geheue.
Makan het na `n meestersgraad in international verhoudings en politieke wetenskap, visuele kuns aan die Universiteit van Pretoria studeer. Makan se prys is R15 000.
Die merietepryswenners verdien elk R 5000: Bhana met haar Om asato ma sadgamaya, tamaso ma jyotirgamaya, mrityorma amritamgamaya om shantih shantih shantih, PVC-pype, wit steenware en glasskywe (250 x 88 x250); Campbell met sy sementstruktuur, For those who fall asleep during the day and awake to a setting sun, often it is mistaken as rising (217 x 250 x 34.5 cm); De Jesus met haar installasie-videowerk In exchange: mis en counter; houttoonbank met videoskerms (110 x 233,5 53,5);de Swardt met sy videowerk Melt(4:56:04 minute); en Visser ook met `n videowerk, We come from the North, We belong to the South (2 minute).
Die wenners is aangewys uit `n keur van 129 werke wat tot 20 September in die Pretoriase Kunsmuseum te sien is. `n Rekordgetal inskrywings is vanjaar vir Sasol Nuwe Handtekeninge-kompetisie ontvang – altesame 794.
Volgens Franci Cronje, voorsitter van die kompetisie, is die toename aan inskrywings “ `n duidelike aanduiding dat die (visuele) kunste in die land gedy”.
Sasol Nuwe Handtekeninge is die oudste kunskompetisie in Suid-Afrika. Die kompetesie is in 1962 deur die Kunsvereniging Pretoria begin en Sasol is die afgelope 19 jaar de borg.
|